Atletiek by Laerskool Randhart vind gedurende die eerste en derde kwartaal plaas.
Aan die begin van elke jaar word daar reeds op die eerste skooldag uitdunne gehou om die top twaalf naelloopatlete in elke ouderdomsgroep te bepaal. Hierdie atlete ding teen mekaar mee tydens die huissport wat plaasvind op die eerste Vrydagmiddag, nadat die skole heropen het. Tydens die huissport is alle leerders welkom om aan die velditems en langafstande deel te neem.
Na afloop van die huissport word ʼn voorlopige span saamgestel om aan die vriendskaplike byeenkomste deel te neem. Alhoewel sommige atlete verkies om van privaatafrigters gebruik te maak, is Dinsdagmiddagoefeninge by die skool verpligtend vir alle atlete. Op Dinsdagmiddae word daar weer uitdunne gehou om die span vir die volgende byeenkoms te finaliseer. Laerskool Randhart bied ook jaarliks sy eie aflosbyeenkoms aan.
Die uitslae van al die vriendskaplike byeenkomste word in ag geneem wanneer die jaarlikse interlaerspan gekies word. Tydens die interlaerbyeenkoms, wat gewoonlik die tweede week van Februarie plaasvind, kan leerders dan deurdring na die Albertonkampioenskappe. Hierna kan atlete ook kwalifiseer om aan die Distrik-, Gauteng- en SA-kampioenskappe deel te neem.
Tydens die derde kwartaal word daar weer uitdunne gehou vir die jaarlikse massabyeenkoms. Die doel hiervan is om alle leerders, wat graag wil, ʼn kans te gee om tydens hierdie geleentheid deel te neem. Uit die byeenkoms se A-wedlope word ʼn span verkies wat gedurende die volgende week aan ʼn vriendskaplike byeenkoms deelneem. Na aanleiding van hierdie vriendskaplike byeenkoms asook die eerste kwartaal se uitslae word daar dan ʼn span gekies om in Oktober aan die jaarlikse Super 12-atletiekbyeenkoms deel te neem.
By Laerskool Randhart is ons doelstelling om die liefde vir rugby asook die vaardighede van die spel te ontwikkel.
Rugby begin reeds vir die seuns in graad 1. Oefeninge begin altyd die Maandag na die interskole-atletiekbyeenkoms. Afrigting word deur die onderwysers, wat al die nodige kwalifikasies het, hanteer. Oefentye vir die seuns vind op Maandae tot Woensdae direk na skool tot ongeveer 14:00 plaas. ʼn Rugbykliniek vind op Donderdagmiddae plaas waar daar meer aandag aan die ontwikkeling van vaardighede geskenk word.
Welpierugbywedstryde vind gedurende die tweede kwartaal op Saterdae plaas en elke seun kry gewoonlik geleentheid om elke Saterdag twee wedstryde te speel.
Graad 2-seuns speel nie meer welpierugby nie en word reeds voorberei om vyftienmanrugby te speel. ʼn A- en B-span word gekies. Wedstryde word gereël saam met die meeste ligadae en daar word ook aan spesiale toernooie, wat slegs vir o.8-spanne is, deelgeneem.
Jaarliks, na afloop van die atletiekseisoen, vind die intergraad vir die res van die skool se spanne (o.9 tot eerstes) plaas en hier kry alle belangstellende seuns die geleentheid om proewe te speel in die posisie waarin hulle graag sal wil speel. Spanne word hierna gekies en seuns word die geleentheid gegun om hul staal te wys in die eerste paar vriendskaplike wedstryde van die seisoen.
Laerskool Randhart se rugbyspanne toer reeds van ʼn baie jong ouderdom af.
Die o.9-, o.10A en B-spanne toer jaarliks gedurende die Aprilvakansie na Jubaweni. Die o.11 tot eerste span toer gedurende dieselfde vakansie na Camp Discovery waar baie wedstryde gespeel word. Die eerste span neem ook deel aan die gesogte Wildeklawertoernooi in Kimberley.
Na afloop van die vriendskaplike wedstryde en toere sal spanne finaal vir die Super 12-kompetisie asook die liga aangekondig word.
Die Super 12-kompetisie is een van die grootste kompetisies vir laerskole in die land en vind altyd die eerste Saterdag na die Aprilvakansie plaas en die finale rondtes die week daarna.
Laerskool Randhart is betrokke by die superliga vir laerskole in Gauteng waar baie sterk skole in ʼn liga teen mekaar deelneem. Die liga bestaan uit agt vooraanstaande skole. Na afloop van al die ligawedstryde volg kwart-, semi- en finale rondes vir al die onderskeie ouderdomme.
Laerskool Randhart hou ook jaarliks o.6 tot 0.11 rugbyfeeste.
Laerskool Randhart poog nie net om wenspanne op te lewer nie, maar om ook elke individuele speler van so ’n aard te ontwikkel dat hulle op seniorvlak sal presteer.
o.7 en o.8-netbal:
Laerskool Randhart glo daaraan om elke leerder se natuurlike talente te ontwikkel en daarom word minstens ses spanne gekies. Elke dogtertjie word deel van ʼn span en kry die geleentheid om aan wedstryde deel te neem. Omdat dogters van hierdie ouderdomsgroepe in ʼn ontwikkelingsfase is, word daar baie gekonsentreer op die ontwikkeling van hul vaardighede alvorens daar sifting plaasvind. Volgens Netbal Suid-Afrika moet daar op hierdie vlak ook posisionele ruilings plaasvind wat aan die dogters ʼn geleentheid gee om in al die moontlike netbalposisies hul vaardighede te ontwikkel.
o.9-netbal:
Vanaf o.9 word daar spanne gekies tydens die intergraad waar elke dogter die geleentheid kry om hul vaardighede ten toon te stel tydens proewe. Daar word altesaam 24 dogters gekies wat in die A-, B- en C-spanne, agt in elke span, opgeneem word. Posisionele ruilings, soos deur Netbal Suid-Afrika vereis, vind ook op o.9-vlak tydens elke wedstryd plaas. Sodoende word daar ook gedurende die spelers se o.9-jaar verseker dat hulle ʼn geleentheid kry om in elke moontlike posisie blootstelling te kry.
o.10 tot o.13-netbal:
Jaarliks, na die atletiekseisoen, word daar intergraad gehou waar elke dogter die geleentheid kry om hul vaardighede ten toon te stel tydens proewe. Die doel hiervan is om drie spanne in elke ouderdomsgroep te kies. Daar word 23 dogters in elke ouderdomsgroep gekies wat onderskeidelik in die A-, B- en C-spanne opgeneem word.
Elke span bestaan uit sewe spelers asook twee reserwes wat elke span verteenwoordig. Ter verduideliking: Die A-span bestaan uit sewe spelers en hul twee reserwes kom dan uit die B-span uit. Die reserwes speel amptelik vir die B-span, maar staan in vir ʼn A-spanspeler, indien daar byvoorbeeld ʼn besering is. Dieselfde geld vir die B-span. Die reserwes mag glad nie gedurende ligawedstryde vir ʼn hoër span speel nie, tensy daar ʼn besering is. Die reël geld egter nie vir C-spanne nie. C-spanne mag nege spelers op die spanlys hê waarvan slegs agt spelers tydens ʼn betrokke wedstryd mag speel. Hulle mag egter halftyd ruil, indien hulle dit verkies. Elke jaar word daar aan spanne geleentheid gebied om op toere te gaan of aan toernooie deel te neem.
Die o.13A-span toer jaarliks gedurende die Aprilvakansie na ’n bestemming van hulle keuse. Elsje Jordaan (voormalige Protea-netbalafrigter) bied jaarliks ʼn toernooi aan waaraan ons o.9A/B/C tot o.13A/B/C-spanne deelneem.
Voorseisoenale vriendskaplike byeenkomste word gespeel en alle A-, B- en C-spanne speel gedurende die tweede kwartaal verskeie ligawedstryde. Alle A-spanne neem ook aan die Super 12-kompetisie deel wat altyd die eerste Saterdag na die Aprilvakansie plaasvind asook die week daarna wanneer finale rondes gespeel word. Die B- en C-spanne neem gedurende Mei aan die Super 12-kompetisie vir B- en C-spanne deel. Die o.13A-span neem ook deel aan die gesogte Wildeklawertoernooi in Kimberley.
Laerskool Randhart hou ook jaarliks o.6 tot 0.13 netbalfeeste.
Laerskool Randhart beskik oor twee turfkrieketblaaie en ses oefen-nette. Daar word jaarliks twee 0.9-spanne en slegs een span by o.10, o.11, tweedes en eerstes gekies.
Die krieketseisoen strek vanaf Junie tot Oktober. Alle seuns is welkom om in Junie aan die proewe deel te neem. Al die spanne neem aan vriendskaplike- en ligawedstryde deel. Gedurende die seisoen neem die seuns aan proewe deel om verkies te word tot die o.11 tot o.13 Suid-Oosrandstreekspanne. Seuns in hierdie spanne kry ook die geleentheid om aan die Oostelike proewe deel te neem om sodoende provinsiale kleure te verwerf.
Die o.11 en o.13-spanne neem jaarliks gedurende die Julievakansie aan die Super 12-kompetisie te Rustenburg deel.
Laerskool Randhart hou ook jaarliks o.9 tot o.11 krieketfeeste.
Gedurende die laaste twee of drie weke van die tweede kwartaal is alle o.10 tot o.13-seuns en dogters welkom om hokkievaardighede aan te leer of dit op te skerp tydens oefeninge. Aan die einde van die tweede kwartaal vind die hokkieproewe plaas en ʼn dogters o.10, o.11, tweede en eerstespan word verkies. By die seuns word ʼn o.11, tweede en eerstespan gekies.
Mini-hokkie vind ook gedurende die derde kwartaal op die skoolterrein vir o.7 tot o.9- dogters plaas en almal wat belangstel, kan deelneem. Daar is ook oefening vir seuns o.9. Oefening vir o.7-dogters is vanaf 13:10 tot 14:10 en vir die o.8 en o.9-dogters vanaf 14:00 tot 15:00. Die o.9-seuns oefen ook vanaf 14:00 tot 15:00.
Die o.10 tot o.13-dogters sowel as die o.11 tot 13-seuns oefen op Hoërskool Marais Viljoen se terrein. Die dogterspanne oefen vanaf 14:00 tot 15:15 en die seunspanne vanaf 15:15 tot 16:15.
Ligawedstryde word gedurende die derde kwartaal gespeel. (Julie tot September). Slegs o.10 tot o.13-spelers neem aan die liga deel. Die juniorspanne neem ook deel, maar slegs vriendskaplik.
Die seuns- sowel as die dogters eerstespan neem ook jaarliks aan die Super 12-kompetisie deel wat gewoonlik die eerste naweek van die derde kwartaal plaasvind.
Aan die einde van die hokkieseisoen vind daar Oos-Gautenghokkieproewe vir die o.12 en o.13-seuns en dogters plaas.
Me. Van Zyl en Kloppers bied ʼn hokkiekliniek vanaf Maart tot November vir alle o.7 tot o.13-dogters en seuns aan. Skakel gerus vir me. Van Zyl by 082 313 4862 indien u hierby betrokke wil raak.
Laerskool Randhart hou ook jaarliks ’n o.13-seuns en dogters hokkiefees.
Gholf is ʼn erkende sportsoort by Laerskool Randhart wat deur ʼn privaatpersoon hanteer word. Mnr. Rendum Venter is tans in beheer van ons gholf.
Gholfklinieke word op ʼn Maandagmiddag net na skool op die skoolterrein aangebied vir die graad 1 en 2-leerders. Klinieke vir graad 3 tot 7-leerders vind Donderdagmiddae na skool plaas. Spelers neem gewoonlik gedurende skoolvakansies aan toernooie deel om hul spel te verbeter.
Alle spelers mag jaarliks aan die proewe deelneem om gekies te word vir die Super 12-span. Die proewe bestaan uit drie rondes en die twee beste rondes se punte word in ag geneem. Die top 6-gholfspelers word weer geleentheid gegun om hul staal teen mekaar te wys en daarna word die top vier gekies om gedurende die derde of vierde kwartaal aan die Super 12-kompetisie deel te neem.
Laerskool Randhart speel ook met twee spanne in die Ekurhuleni-liga.
Tesame met Alberhart-tennisklub en -afrigters word daar omgesien na die totale tennisprogram by die skool.
Begin Desember word daar proewe gehou en alle leerders word uitgenooi mits hulle self telling kan hou en dien. Na afloop van die proewe word die ranglys opgradeer. Na die proewe word die spelers op die ranglys kans gegun om spelers te daag. Tydens die eerste daging mag hulle enige leerder bo hulle daag; daarna slegs 2 posisies bo hulle. Ons maak staat op die ouers om ons hiermee te help. Daar sal ten alle tye ʼn personeellid teenwoordig wees by hierdie uitdaagwedstryd.
Na afloop van alle uitdaagwedstryde word ʼn finale ranglys opgestel. Hierna word spanne saamgestel met die hoeveelheid leerders wat vir die proewe opgedaag het en die spanne neem dan deel aan die liga. Daar word 1 seniorseun-, 1 seniordogter-, 1 juniorseun en 1 juniordogterspan gekies om aan die ligawedstryde deel te neem (elke span het 8 spelers) Daar sal altyd ʼn spanbestuurder (onderwyser) teenwoordig wees by alle ligawedstryde.
Seniorspanne bestaan uit graad 6 en 7-leerders. Juniorspanne bestaan uit graad 1 tot 5-leerders.
Laerskool Randhart neem deel aan die Gautengliga. Seniorspanne speel die eerste en derde kwartaal liga en juniorspanne speel slegs in die derde kwartaal liga.
Laerskool Randhart neem ook jaarliks aan die Super 12-kompetisie deel en ʼn seniorseun- en seniordogterspan neem hieraan deel. Hierdie twee spanne oefen dwarsdeur die jaar op ʼn weeklikse basis en speel heelwat vriendskaplike wedstryde.
Laerskool Randhart neem ook deel aan die Albertonliga.
Ons sluit die seisoen af met die interne kampioenskappe.
Vriendskaplike wedstryde word ook gereël om vir almal kans te gee om te speel. Indien spelers nie vertroud is met tennis nie, kan hulle by die “learn to play’ oefeninge inval.
Die landloopliga vind gedurende die derde kwartaal plaas. ʼn Massabyeenkoms word aan die einde van die tweede kwartaal gehou en alle leerders word genooi om hieraan deel te neem. Die doel van die byeenkoms is om leerders ʼn voorsmakie te gee van dié sportsoort.
Wie mag deelneem?
Alle leerders is welkom.
Leerders neem in ouderdomsgroepe van o.9 tot o.13 deel. Graad 1 en 2-leerders neem saam met die o.9-groep deel.
Oefening
Juniors (Graad 1 en 2):
Leerders oefen slegs gedurende die derde kwartaal van 13:10 tot 14:00 op Maandae, Dinsdae en Donderdae.
Seniors (Graad 3 tot 7):
Leerders begin reeds gedurende die tweede kwartaal direk na die rugby en netbal oefen en gaan voort gedurende die derde kwartaal.
Leerders neem deel aan die liga en R10.00 is betaalbaar per byeenkoms. Elke leerder moet ten minste aan twee ligabyeenkomste deelneem om te kwalifiseer vir deelname aan die Albertonkampioenskappe. Die aantal verpligte byeenkomste kan wel van jaar tot jaar verskil, afhangende van die aantal byeenkomste wat vir die seisoen gereël is.
Tydens die Albertonkampioenskappe moet ʼn atleet kwalifiseer om aan die Distrik-, Gauteng- en SA-kampioenskappe deel te neem.
Atlete neem ook jaarliks in Augustus aan die Super 12-kompetisie deel en hierdie is die enigste keer wat spanne gekies word. Slegs vier seuns en vier dogters mag per ouderdomsgroep hieraan deelneem.
Ruiters is ’n erkende sportsoorte by Laerskool Randhart wat privaat hanteer word.
Laerskool Randhart het ’n groeiende span ruiters wat deelneem aan die SANESA kwalifiserende rondes. Die ruiters, wat kwalifiseer vir hulle Ekurhuleni-kleure, neem deel aan die Gautengkampioenskappe wat gevolg word deur die Nasionale kampioenskappe vir dié wat hulle Gautengkleure verwerf het.
Laerskool Randhart se ruiters presteer uitstekend en het al op nasionale vlak gewen. Verder neem Laerskool Randhart ook elke jaar deel aan die Ekurhuleni-liga en die ruiterspan het al die trofee, huis toe gebring vir die beste ruiterspan in hierdie kategorie.
Die ruiters neem oor die algemeen aan die volgende items deel:
• Show Jumping (springry)
• Equitation (perdrykuns)
• Prix Capprilli
• Dressage (dressuur)
• Cross Country (kruisveldspring)
Al hierdie prestasies word erken deur Laerskool Randhart. Elke ruiter ontvang ook al die basiese klerasie met die skool se embleem op om Laerskool Randhart trots te kan verteenwoordig by kompetisies.
Verder, as ’n sport hou perdry die volgende voordele in vir kinders om net ’n paar te noem:
1. Fisiese oefening
2. Verantwoordelikheid en dissipline
3. Geestelike gesondheid
4. Selfvertroue
Daar is jaarliks ’n ruitervertoning op die skoolgronde.
Swem is ’n erkende sportsoort by Laerskool Randhart wat privaat hanteer word.
Proewe word aan die einde van elke jaar by Waterstone College gehou. Swemmers oefen privaat by die afrigter van hul keuse. Daar word werkswinkels gehou by Waterstone College om ons swemmers voor te berei vir die liga.
Leerders wat aan kompetisies deelneem, kry erkenning vir hulle deelname aan hierdie sportsoort.
Laerskool Randhart swem Vrydae in die suid-streek van die Gautengliga.
Swem vind gedurende die eerste en vierde kwartaal plaas.
Hengel is ’n erkende sportsoort by Laerskool Randhart wat deur die onderwysers self hanteer word.
Hengel word intern as ’n sportkode deur die skool aangebied. Spanne word tydens hengelproewe aan die einde van die jaar gekies. Juniorspanne bestaan uit vier lede elk en ‘Jonge Dames spanne’ bestaan uit twee lede per span.
Die hengelaars neem aan vyf liga-kompetisies in die eerste en tweede kwartaal deel en ’n finale kompetisie in Augustus. Hengelaars kan dan by die finaal gekies word vir spanne wat Sentraal Gauteng by die Kampioen van kampioene-toernooi gedurende die Oktober vakansie verteenwoordig. Tydens hierdie kompetisie word daar dan weer hengelaars vir spanne gekies wat by die SA-skole SAVOF-hengeltoernooi gaan deelneem.
Alle ander leerders wat nie ’n span gemaak het nie, maar wat graag wil deelneem aan hengel mag lid word van die Ranties Sosiale Hengelklub wat dwarsdeur die jaar werkswinkels en hengel-oefendae sal hê asook sessies waar kundiges besprekings oor toerusting sowel as ander vaardighede sal aanbied. Hierdie leerders sal besonders baat vind by die sosiale klub om sodoende uiteindelik in aanmerking te kom vir die spanne wat die skool gaan verteenwoordig gedurende hengelkompetisies.