Dramaklub
Die dramaklub by Laerskool Randhart, Stage Stars Studio, word privaat bedryf as ‘n buitemuurse aktiwiteit. Belangstellende leerders vanaf graad 1 tot 7 kan aan hierdie kreatiewe dramaklasse deelneem.
Die klasse word aangebied deur die Stage Stars span onder die leiding van Carla Janse van Rensburg, ʼn gekwalifiseerde fasiliteerder met ʼn lisensiaat in Spraak en Drama.
By Stage Stars val die fokus op die ontwikkeling van selfvertroue, kreatiwiteit, kommunikasievaardighede, talent, groepsdinamika, verbeelding, taalvaardigheid en redevoering. Alle klasse vind in ʼn onkritiese omgewing plaas.
Leerders neem jaarliks deel aan Redenaars, die Alberton Eisteddfod, ATKV-geleenthede asook verskeie ander spraak en dramakompetisies.
Klasse begin amptelik in Januarie in die skoolsaal met 3 uurlikse sessies op Maandae vanaf direk na skool tot 16:00. Leerders hoef nie noodwendig op die uur in te skakel nie, maar kan aansluit wanneer hul ander aktiwiteite afgehandel is.
Vir verdere besonderhede of om by Stage Stars aan te sluit, kontak vir Carla by 082 613 8446 of info@stagestars.co.za
Kore
Randrefrein en Kiewiete
Laerskool Randhart spog met ʼn juniorkoor wat ook bekendstaan as die Kiewietkoor en Randrefrein ons seniorkoor.
Daar vind jaarliks gedurende November vir graad 2 en 3-leerders oudisies plaas vir die Kiewietkoor. Graad 1-leerders asook nuwe graad 2 en 3-leerders kry die geleentheid om binne die eerste week van die volgende skooljaar ook oudisies te doen.
Aan die einde van ʼn graad 3-Kiewietkoorlid se skooljaar, word al die graad 3-koorlede onderwerp aan ʼn oudisie om te bepaal of die koorlid meerstemmige koorwerk sal kan baasraak. Die aantal lede wat verkies word, word bepaal na aanleiding van die beskikbare plek in ons Randrefreinkoor. Nuwe graad 4 tot 7-leerders kry ook die geleentheid om binne die eerste week van die volgende skooljaar oudisies te doen.
Die Kiewiete en Randrefrein neem jaarliks aan die Alberton Eisteddfod, ATKV-Applous en die Super 12-koorkompetisie deel. Randrefrein tree ook per geleentheid op uitnodiging by verskeie geleenthede op.
Seunskoor
Randhart is bevoorreg om ook te kan spog met ʼn seunskoor wat in 2016 tot stand gekom het. Die seunskoor is juis in die lewe geroep om aan ʼn addisionele 30 of 40 seuns die geleentheid te bied om ook in ʼn skoolkoor te sing en dit as ʼn kultuuraktiwiteit te beoefen.
Oudisies vir die koor vind jaarliks gedurende die laaste twee weke van die vierde kwartaal plaas. Dit word opgevolg met ʼn tweede rondte oudisies in Januarie van die nuwe skooljaar.
Gedurende 2017 was die koor in die bevoorregte posisie om fondse in te samel, sodat pragtige koordrag vir die seuns ontwerp en gemaak kon word.
Die seunskoor neem jaarliks tydens verskeie geleenthede asook die Alberton Eisteddfod deel.