Laerskool Randhart se Algemene Kennisspan bestaan uit drie graad 7-leerders (twee deelnemers en een reserwe). Leerders wat belangstel om deel te wees van die Algemene Kennisspan moet besef dat dit baie harde werk en toewyding verg. Dit is egter ook baie vervullend en selfverrykend. Ten spyte van die harde werk wat ingesit word, heers daar ten alle tye ʼn gemoedelike atmosfeer.
Die Algemene Kennisspan neem jaarliks aan die Super 12-kompetisie deel wat gewoonlik in Augustus plaasvind.
Die leerders moet breë algemene kennis opbou oor ʼn wye spektrum van onderwerpe soos byvoorbeeld die politiek, sport, wêreldgeskiedenis en nuus en selfs tot natuurwetenskappe.
Slegs leerders wat hulself bereidwillig verklaar om talle ure te spandeer om hulle algemene kennis te verbreed, word oorweeg vir hierdie span.
Bybelvasvra is ʼn vrywillige aktiwiteit vir graad 5 tot 7-leerders en maak deel uit van die skool se missie om totaliteitsopvoeding te verskaf. Hierdie aktiwiteit het ten doel om leerders se liefde vir God en die Bybel te kweek.
Enige graad 5 tot 7-leerder kan deelneem en belangstelling bepaal jaarliks die aantal spanne.
Swallow 15 is ’n musiekskool wat privaatmusieklesse op Laerskool Randhart se terrein aanbied. Belangstellende leerders woon op ʼn weeklikse basis lesse by om ʼn sekere musiekinstrument te bemeester.
Swallow 15 bied die volgende klasse aan:
Ghitaar (akoesties en elektries), vokaal, sleutelbord, klavier asook dromme en bas in verskillende style bv. “pop, rock, blues, punk en metal” aan.
Vir verdere besonderhede of om by Swallow 15 aan te sluit, kan Joe by 083 286 2726 gekontak word.
Laerskool Randhart hou elke vyf jaar ʼn revue waar die doelwit is om soveel as moontlik leerders die geleentheid te bied om ten minste een keer gedurende hul laerskoolloopbaan aan ʼn groot produksie deel te neem.
Massadeelname word dus aangemoedig en alle graad 1 tot 7-leerders neem in klas- en graadverband deel.
ʼn Revue-fooi word na aanleiding van uitgawes (klere, beligting asook choreografie) gehef en ouers kan dit oor ʼn aantal maande afbetaal of eenmalig vereffen. Hierdie projek word nie aangebied om fondse te genereer of om wins te maak nie – kostes word dus so laag as moontlik gehou.
Die revue vind gewoonlik aan die einde van die derde of begin van die vierde kwartaal plaas en die aantal optredes word bepaal deur die mate van belangstelling.
Die DRAMATIES-dramagroep word privaat op Laerskool Randhart se terrein bedryf. Belangstellende leerders woon op ʼn weeklikse basis klasse by om hul drama-talent te ontwikkel of om selfvertroue te bou.
Hierdie buitemuurse aktiwiteit is vir graad 4 tot 7-leerders en klasse vind op Dinsdagmiddae in die skoolsaal vanaf 14:00 tot 15:30 plaas. Klasse neem gewoonlik ’n aanvang gedurende die eerste week van Februarie.
Me. Erna van Staden, wat haar lisensiaat in drama het, bied die klasse onder die vaandel van haar ‘Kom-Ons-Praat-Dramaskool’ aan.
Daar word jaarliks beplan om aan ʼn mini-toneel of twee te werk en aan verskeie toneelkompetisies deel te neem waarvan o.a. Con Spirito een is.
Vir meer inligting kan me. Erna van Staden gekontak word by:-
082 334 3442 of drama@komonspraat.com.
Haar Facebook-blad “Kom ons Praat dramaskool” sal ’n kykie bied in dít wat sy doen.
Randrefrein en Kiewiete
Laerskool Randhart spog met ʼn juniorkoor wat ook bekendstaan as die Kiewietkoor en Randrefrein ons seniorkoor.
Daar vind jaarliks gedurende November vir graad R tot 2-leerders oudisies plaas vir die Kiewietkoor. Nuwe leerders kry die geleentheid om binne die eerste week van die volgende skooljaar ook oudisies te doen.
Aan die einde van ʼn graad 3-Kiewietkoorlid se skooljaar, word al die graad 3-koorlede onderwerp aan ʼn oudisie om te bepaal of die koorlid meerstemmige koorwerk sal kan baasraak. Die aantal lede wat verkies word, word bepaal na aanleiding van die beskikbare plek in ons Randrefreinkoor. Nuwe graad 4 tot 7-leerders kry ook die geleentheid om binne die eerste week van die volgende skooljaar oudisies te doen.
Die Kiewiete en Randrefrein neem jaarliks aan die Super 12 en verskeie kompetisies deel. Die kore tree ook per geleentheid op uitnodiging by verskeie geleenthede op.
By die Kunsklub wil Laerskool Randhart graag leerders betrek wat kunstig is en graag uiting wil gee aan hulle kreatiewe sy.
Aangesien daar ʼn groot aanvraag vir die Kunsklub is, word uitdunne vroeg in die eerste kwartaal (teen einde Januarie) gehou. Na die uitdunne word tien leerders per graad gekies om gedurende die eerste kwartaal elke Donderdagmiddag die Kunsklub by te woon. Leerders word in verskeie kunstegnieke onderrig. Tydens hierdie klasse word die leerders, onder die leiding van entoesiastiese onderwysers, uitgedaag om met passie hul unieke kunswerk te beplan, te skep en met trots aan te bied. Die Kunsklub vind op Donderdagmiddae tussen 14:00 en 15:00 plaas.
Tydens die tweede kwartaal word daar op die Kunsfees gefokus en hier is enige leerder welkom om op Donderdagmiddae na skool sy of haar kunswerk te kom skep, aangesien hierdie kunswerke nie by die huis gedoen mag word nie.
Alle leerders word vriendelik uitgenooi om hul potlode en kwaste te gryp en ʼn draai te kom maak by die Kunsklub. Hier gaan hulle sorgvrye, skeppende en inspirerende middae beleef!
Laerskool Randhart bied jaarliks met trots ’n Kunsfees aan en enige leerder is welkom om hieraan deel te neem. Die leerders ontvang die temas, waarop die kunswerke gebaseer moet word, vroeg in die tweede kwartaal.
Aangesien kunswerke die leerders se eie werk moet wees, word daar van die leerders verwag om dit alles by die skool te doen. Daar sal voorsiening in die klasse en Kunsklubklasse gemaak word om die kunswerke te voltooi.
Elke deelnemer ontvang ’n sertifikaat van deelname en kan in aanmerking kom vir item- en/of afdelingwenner.
’n Glansgeleentheid (kunsuitstalling) vind in die vierde kwartaal plaas waar die heel beste kunswerke tydens die kultuuraand uitgestal word.
Alle leerders van graad R tot 7 is welkom om jaarliks aan die Alberton Eisteddfod, wat vanaf Julie tot September plaasvind, deel te neem. Slegs Afrikaanse en Engelse voorgeskrewe gedigte sal deur die skool aan belangstellende leerders verskaf word. Leerders is self verantwoordelik vir die aanleer van hierdie gedigte. Indien leerders belangstel om vir ander items in te skryf, sal die skool slegs die inskrywings hanteer – stukke en voorbereiding hiervan is die leerders se eie verantwoordelikheid.
Sodra die skool die leerders se inskrywingsvorms terug ontvang, sal die datum en tyd van deelname vir hulle deurgegee word. Ouers is self verantwoordelik om leerders by die verskillende lokale van deelname te besorg.
Afdelings waarvoor ʼn leerder kan inskryf:
Afrikaans voorgeskrewe poësie
Afrikaans eie keuse poësie – Die gedig moet by aanvang van die item by die beoordelaar ingehandig word. Geen voorgeskrewe gedigte van die vorige twee jaar mag gebruik word nie.
Graad 1 tot 3 juniorspreekkoor
Graad 4 en 5-speekkoor
Graad 6 en 7-spreekkoor
Afrikaans gedramatiseerde poësie (Neutrale drag is swart)
Afrikaans prosa eie keuse.
Afrikaans monoloog eie keuse.
Afrikaans samespraak – Dramatiese voorstelling (komies of dramaties) deur twee tot vier deelnemers
Afrikaans onvoorbereide lees
Afrikaans Bybelvoordrag
Musiek (Individueel)
Afrikaans stelwerk (Slegs graad 5 – 7)
Al die bogenoemde afdelings kan ook in Engels gedoen word.
Nog afdelings:
Kuns – Moet ten minste twee kunsstukke inskryf, voordat ʼn leerder genooi word om aan onvoorbereide kunsafdeling deel te neem. Die leerders is self daarvoor verantwoordelik om die kunswerke in te skryf.
Fotografie – Swart en wit- asook kleurafdeling (Slegs graad 4 – 7)
Vokaal solosang – Ouers reël self vir ʼn begeleidster.
Duet – Verskeie afdelings met ʼn verskeidenheid tipe liedjies
Instrumentaal – Verskeie musiek en musiekinstrumente
Redenaars
Public Speaking
Dans – Word deur dansskole ingeskryf
Leerders wat verkies om privaat of deur hul dramastudio in te skryf, sal ook erkenning vir deelname ontvang. Die skool moet asseblief in kennis gestel word, aangesien die studio’s nie noodwendig al die uitslae deurstuur nie.
Leerders wat uitstekend vaar tydens die kunswedstryd sal na die Itemwennersaande genooi word waar hulle spesiale sertifikate sal ontvang. Tydens die spoggerige Gala-aand ontvang alle afdelingwenners ’n trofee vir hul puik prestasies.
Wil u graag u eie standpunt stel en mense daarvan oortuig? Dan is u op die regte plek.
Die ATKV verskaf die temas en dié inligting word vroegtydig (reeds Oktober van die vorige jaar) aan ouers deurgegee, sodat daar genoegsame tyd is om ʼn toespraak gereed te kry. Die tydsduur van die individuele toespraak is as volg:
Graad 1 tot 3: 2 – 4 minute
Graad 4 en 5: 3 – 5 minute
Graad 6 en 7: 4 – 6 minute
Die interne redenaars vir graad 2 tot 7-redenaars vind reeds in die eerste kwartaal (vroeg Februarie) plaas. Die uitdunne vind in graadverband gedurende of na skool plaas waar 12 leerders per graad gekies word om aan die interne redenaars deel te neem. Alle redenaars wat aan die interne redenaars deelneem, ontvang ʼn sertifikaat van deelname.
Na aanleiding van die interne redenaars word die beste agt redenaars in drie afdelings (Graad 2 en 3, Graad 4 en 5 asook Graad 6 en 7) gekies om in elke afdeling teen mekaar mee te ding tydens die prestige-redenaarsgeleentheid. Hierdie prestige geleentheid vind gedurende dieselfde week as die interne redenaars plaas. Daar word van befaamde beoordelaars gebruik gemaak asook ʼn vraesteller wat aan die graad 4 en 5-redenaars ʼn konkrete vraag en aan die graad 6 en 7-redenaars ʼn abstrakte vraag vra na afloop van hul voorbereide toespraak. Die wenner en naaswenner van elke graad asook die wenner van elke afdeling word na afloop van die geleentheid aangekondig en wenners ontvang trofeë.
Die twee redenaars van elke afdeling (ses redenaars) met die hoogste punte, asook een graad 7-span, neem aan die Super 12-kompetisie deel. Hierdie kompetisie vind gedurende die tweede naweek in Maart plaas. Tydens hierdie kompetisie moet graad 4 en 5-redenaars ʼn konkrete vraag en die graad 6 en 7-redenaars ʼn abstrakte vraag na afloop van hul voorbereide toespraak beantwoord.
Na aanleiding van die uitslae tydens die prestige-redenaarsgeleentheid kwalifiseer die top ses leerders van elke afdeling om aan die ATKV-redenaarskompetisie deel te neem. Die eerste ronde vind gedurende April plaas. Die graad 6 en 7-redenaars sal ʼn voorbereide, sowel as ʼn onvoorbereide toespraak moet lewer. Hulle moet dus almal na afloop van hul voorbereide toespraak aanbly om aan die onvoorbereide afdeling deel te neem. Graad 4 en 5-redenaars moet ʼn vraag direk na afloop van hul voorbereide toespraak beantwoord. Graad 2 en 3-redenaars lewer slegs ʼn voorbereide toespraak.
Verskeie individuele redenaars van elke graad vorm deel van die skool se spanredenaars wat aan die WITS Interskole Spanredenaarskompetisie in Mei deelneem. Daar is spankoördineerders (personeel) vir elke span wat toesien dat hulle afgerond is vir hierdie kompetisie. Die tydsduur vir ATKV-spantoesprake is 10 – 12 minute.
Laerskool Randhart neem ook graag deel aan die Alberton Eistedfodd (kunswedstryd) waar ons die individuele redenaars asook spanredenaars aanmoedig om deel te neem. Die kunswedstryd vind gedurende die derde kwartaal (Julie en Augustus) plaas.
Ons redenaars neem aan eksterne kompetisies soos Con Spirito, Radikale Redenaar, Kansvatter, ATKV-DigiPraat, ens. deel.
Die graad 1-interne redenaarsgeleentheid vind gedurende die derde kwartaal plaas. Elke redenaar ontvang ʼn sertifikaat van deelname. Die wenner en naaswenner ontvang trofeë. ʼn Redenaarskursus word aan die begin en einde van elke jaar onder die bekwame leiding van me. Kichenbrand aangebied.
Skaak is ’n opwindende spel wat leerders help om konsentrasie, probleemoplossing en strategiese denke te ontwikkel. Skaak bied aan elke leerder die geleentheid om hul breinkrag te slyp, selfvertroue te bou en goeie sportmanskap te leer, alles terwyl hulle pret het.
Het u geweet dat daar meer moontlike skaakskuiwe en -kombinasies is as wat daar atome in die waarneembare heelal is? Dit wys net hoe ongelooflik diep en kreatief die spel kan wees.
Oefening vind op Donderdae plaas.
Juniors (graad 1 - 4): 14:00 - 15:00
Seniors (graad 5 - 7): 15:00 - 16:00
Alle leerders is welkom om deel te wees van Laerskool Randhart se drie spreekkore nl. graad 1 – 3, 4 – 5 en 6 – 7 wat jaarliks deelneem aan die Alberton Eisteddfod. Die spreekkore begin gewoonlik reeds in Mei oefen, sodat hulle gereed sal wees om gedurende September aan die kunswedstryd deel te neem. Daar is ‘n inskrywingsfooi per deelnemer hieraan verbonde.
Leerders wat belangstel om deel van ʼn spreekkoor te wees, kan nie ook lede van die skool se kore wees nie. Oefeninge vir beide hierdie kultuuraktiwiteite vind op Donderdagmiddae na skool plaas.
“Persuasive public speaking” is ‘n uitstekende geleentheid om u kind se selfvertroue te ontwikkel. Net soos met redenaars is "persuasive public speaking” ’n beredeneerde praatjie waar ʼn standpunt ingeneem word en argumente met goeie verwysings aangevoer word om die gehoor te oortuig.
Laerskool Randhart se “persuasive public speaking” vind elke jaar gedurende die vierde kwartaal plaas. Temas word vroegtydig bekendgemaak, sodat redenaars genoegsame tyd het om voor te berei.
Laerskool Randhart bied na afloop van die Alberton Eisteddfod en Con Spirito gedurende die vierde kwartaal ‘n spoggerige kultuuraand aan. Aangesien daar baie talentvolle leerders op kultuurgebied is, word twee vertonings aangebied. Die eerste vertoning is vir graad 1 tot 3-leerders en die tweede vertoning vir graad 4 tot 7-leerders.
Leerders wat tydens die kunswedstryd as item- en afdelingwenners aangewys is, neem vanselfsprekend aan die kultuuraand deel. Indien die program dit toelaat, word een of twee ander uitsonderlike items ook oorweeg om verskeidenheid in die program te verseker.
Daar word van die leerders, wat gekies word om aan die kultuuraand deel te neem, verwag om streng by die oefentye te hou aangesien die program binne ʼn baie kort tydjie aanmekaar gesit en ingeoefen word.
Die kultuuraand by Laerskool Randhart is een van die kultuurhoogtepunte van elke jaar.
E-sport, of elektroniese sport, is ’n opwindende en groeiende sport wat vir ons leerders ’n unieke geleentheid bied om hul vaardighede in digitale uitdagings te ontwikkel. Hierdie innoverende aktiwiteit bevorder nie net samewerking en strategiese denke nie, maar gee die leerders ook die geleentheid om ’n passie vir tegnologie te ontwikkel terwyl hulle ’n gesonde kompetisiegees kweek.
Ons leerders het die keuse om aan twee toernooie deel te neem. Die toernooie vind deurlopend plaas en daar is beslis ’n plekkie vir almal, van graad 1 tot 7, om deel te neem.
Vir die leerders wat daarvan hou om hul kreatiwiteit uit te druk deur te bou, is ons Minecraft-boukompetisie, Rantie-Bouers, die plek om te wees. Daar word onderskeidelik vir die graad 1 en 2, graad 3 tot 5 en graad 6 en 7-groepe ’n week se uitdunronde gegee. Hulle bouprojekte word deur ’n paneel beoordelaars beoordeel om die top tien vir die onderskeidelike finale rondes te bepaal. Daarna het hulle ’n maand tyd om iets op te rig wat ’n bepaalde tema volg. Die finale bouprojekte gaan weer deur dieselfde proses om die wenners en twee naaswenners te bepaal.
Vir die leerders wat dit geniet om rond te jaag in motors of die opwinding van ‘n sokkerspel geniet, is die Ranties Rocket League Toernooi die plek waar die twee mekaar ontmoet. Die Rocket League Toernooi is ons eie interne toernooi waar die leerders in spanne van twee, van graad 4 tot 7, hulself kan inskryf. Afhangend van die hoeveelheid spanne wat ingeskryf word, is daar ’n bepaalde hoeveelheid uitspeelrondes. Die leerders se wenwedstryde word op ’n telbord aangeteken tot en met die laaste dag van die uitspeelrondes waar die top 4-spanne bekendgemaak word. Daarna volg die semifinale en finale ronde om die wenspan te bepaal.
Ons betree die eksterne E-sporttoneel en sal op ACGL se Nitro ASL platform aan toernooie deelneem. Daar word in die tweede kwartaal uitdunne gehou om die spanne te bepaal wat ingeskryf sal word om Laerskool Randhart op hierdie platform te verteenwoordig.
Deur deel te neem aan E-sport, betree die leerders ’n wêreld gevul met virtuele avontuur en ontdek hulle die opwindende moontlikhede van ’n sport wat die toekoms tegemoetkom.
Ons as Voortrekkers is ʼn Moderne Afrikaanse Kultuurbeweging wat in besonder ons Afrikaanse jeug wil bemagtig deur ons jeug te help ontwikkel om positiewe burgers en volhoubare Christene te wees om sodoende diensbaar te wees om ons as Afrikaners se toekoms vorentoe te kan bou.
Ons bied u kind die geleentheid aan om:
- avontuur in die natuur te beleef.
- te leer van ons moderne Afrikanerskap,
- praktiese Christenskap te ervaar en
- basiese vaardighede te ontwikkel met tot 92 verskillende kentekens.
- pret te hê saam met hul gesin en spanmaats in ʼn veilige omgewing.
As ouer is dit belangrik om te weet dat Voortrekkers:
- u kind toerus met ʼn ABCD – Afrikanerskap, Burgerskap, konsekwente Christenskap en Diensbare Leierskap. Kritiese vaardighede vir die besigheidswêreld van môre.
- u as ouer ook betrokke maak om saam met u kinders avontuur te kan beleef in ʼn gebalanseerde en waardegedrewe ruimte.
- u kind se selfvertroue ontwikkel deur hulle veilig bloot te stel aan onvergeetlike ervarings.
Spanbyeenkomste
Spanne kom gemiddeld vir 1 uur bymekaar by die skool. Byeenkomste is gewoonlik op Vrydae van 17:00 tot 18:00.
Kommando-byeenkomste
Verskeie Voortrekker kommando-byeenkomste word deur die jaar gereël.
Hoe om deel te word
Kontak gerus
Erna Serfontein (Kommandoleier)
072 371 7031