Rantiesnuus

Die Rantiesnuus bestaan uit die Kliekklub en Publikasieraad.

Uitgesoekte graad 4 tot 7-leerders behoort aan die Publikasieraad. Die leerders word gekeur na aanleiding van hulle skryfvaardighede. Hierdie artikels en foto’s vorm deel van plasings op ons Facebook-blad en Instagram, vir koerantberigte asook vir ons eie skoolkoerant Rantiesnuus#oppiewerf. Leerders hoef nie noodwendig ’n professionele kamera te hê nie; selfs ’n selfoon kan gebruik word.

Leerders geniet dit om deel te wees van die Rantiesnuus en om ’n aandeel te hê in die verewiging van spesiale gebeurtenisse en geleenthede op die skool se besige kalender.

Laerskool Randhart is trots daarop om onder die top 4 beste digitale skoolkoerante in die land te wees en presteer goed in die landswye Netwerk24-kompetisie. 

Pom-Poms

Met groot opgewondenheid het die Ranties in 2022 die Pom-Poms, ’n nuwe buitemuurse aktiwiteit, in die lewe geroep. Hierdie aktiwiteit is egter slegs vir graad 4 tot 7-meisie.

Oudisies word aanvanklik gehou waarna daar ’n finale groep van ongeveer 34 meisies gekies word.

Eenvormige spogkostuums en pom-poms word vir elke meisie gemaak en moet deur ouers aangekoop word.

Die meisies oefen meestal op Vrydagoggende van 06:00 – 07:00 aan hulle danspassies.

Die pom-pom-meisies tree gretig by sportgeleenthede op en maak omtrent ’n aangename bohaai.
Vanaf 2025 is die Ranties-Pom-Poms ook deel van die FDDCMSA en sal aan meer kompetisies deelneem.

Mnr. en Mej. Rantie

Mnr. en Mej. Rantie is ’n skoonheidskompetisie waaraan enige graad 000 tot 7-Rantieleerder kan deelneem.

Daar word eerstens uitdunne gehou waarna die Rakkers, junior- en seniorfinaliste op twee aparte gala-aande op die verhoog kom pronk voor bekwame beoordelaars. Die titels, Mnr. en Mej. Rantie, Eerste en Tweede Prins/es, Mnr. en Mej. Persoonlikheid, Mnr. en Mej. Fotogenies asook Mnr. en Mej. Hartjie word aangewys.

Hierdie spoggeleentheid is nie net op skoonheid gemik nie. Dit lê die Ranties na aan die hart, want die doelwit van hierdie projek is om al die wins aan ’n liefdadigheidsorganisasie te skenk.

© Kopiereg 2026 Laerskool Randhart - Alle regte voorbehou