Graad 1 is seker die mees onvergeetlike jaar in elke kind se lewe. Hy/Sy gaan "Groot Skool" toe en wanneer die dag verby is, kan hulle nie wag om vir Mamma en Pappa te vertel wat Juffrou hulle geleer het nie.

Die klasse by Laerskool Randhart word ingedeel volgens die leerders se ouderdomme, sodat hulle saam teen dieselfde pas kan leer en vorder. Die skool begin daagliks om 07:25 en die graad 1's verdaag om 13:10.

Skoolbenodigdhede

Dis verpligtend vir elke leerder om ’n kartonhouer aan te koop met al die skryfbehoeftes vir die jaar. Dié houers bly by die skool en word in die klaskamer gebruik.

Hierdie houers moet pragtig oorgetrek word, asook duidelik gemerk word. Leerders neem hierdie houers saam na graad 2 aan die einde van hul eerste skooljaar.

_________

Skryfbehoeftes

Leerders het die volgende skryfbehoeftes tuis nodig om huiswerk mee te doen:

  • 1 pak uitdraaikryte
  • grys potlood
  • 1 pak inkleurpotlode
  • gom
  • skêr

Ouers moet huiswerkskryfbehoeftes apart aankoop, aangesien geen skryfbehoeftes uit die kartonhouer vir hierdie doel gebruik sal word nie.

Wenke om u kind in graad 1 te help

Wanneer u kind graad 1 begin is dit ’n groot aanpassing vir die kind en vir u as ouer.

Hier is wenke om u kind te help:

  1. Beplanning

Werk in ’n gestruktureerde omgewing bv. tafel skoon en netjies met slegs benodighede vir taak. Werk sistematies met die uitvoer van die opdragte.

  1. Instruksies en opdragte uitvoer

Onverdeelde aandag met die luister van ’n opdrag en die uitvoer daarvan.

  1. Knipwerk

Hantering van skêr sowel as die prente wat uitgeknip moet word.

  1. Inkleur

Liggaamshouding moet regop wees, elmboog plat op die oppervlakte. Potloodgreep moet korrek wees.

  1. Liggaamshouding

Stap, staan en sit op stoeltjie.

  1. Sintese en analise

Luistervaardigheid. Opbreek van woorde en die samevoeging van klanke bv. s-i-t – wat hoor jy eerste, laaste en in die middel.

Die woord s-e-n-t word geklank – sê watter woord het jy gehoor.

Ouerleiding

Daar is geen plaasvervanger vir ’n mens se ouers nie. Dis die persone wat die naaste aan ’n kind is en wie se lewe die grootste invloed op ’n kind se vorming het. Ouerskap is nie kinderspeletjies nie, tog is dit ook ongelooflik bevredigend om jou kind voor te bereien gereed te maak om die lewe in die oë te kyk en ’n sinvolle bydrae tot die gemeenskap te maak.

’n Paar wenke:

  1. Belê in u kind: aandag, tyd en liefde. Onvoorwaardelike liefde.
  1. Maak tyd om met u kind te gesels.
  1. Die belangrikste ding van kommunikasie is om te hoor wat nie gesê word nie.
  1. Luister met u ore en met u hart na u kinders.
  1. Reëls is belangrik, maar motiveer u reëls met liefde.
  1. Konsekwentheid is ’n vereiste.
  1. Kinders wat sonder grense grootword, word later onseker grootmense.
  1. Straf op sy tyd help u kind om sy selfrespek te behou, omdat hy dan nie met onopgeloste skuldgevoelens hoef te worstel nie.
  1. Wees regverdig.
  1. Moet nooit so straf dat u, u kind afbreek nie of deur liefde te weerhou nie.
  1. U kind moet weet u vertrou hom.
  1. Moet nooit ’n kind met ’n ander vergelyk nie.
  1. Leer u kind om homself lief te hê en te aanvaar wie hy is.
  1. Moenie meer van ’n kind verwag as wat hy kan gee of doen nie.
  1. Laat u kind toe om te eksperimenteer en foute te maak, te val en op te staan. Kinders moet leer uit hul foute.
  1. Kweek respek deur u kind te respekteer.
  1. Kinders vereer helde, maar soek rolmodelle.
  1. Leer u kind dat wat in die lewe tel nie is wat ons het nie, maar wat ons is.
  1. Wees betrokke by u kind. Motivering en aanmoediging is soos suurstof vir die hart.
  1. Leer u kind verantwoordelikheid.
  1. Kweek karakter by u kind – dis meer werd as ’n kas vol trofeë.
  1. Elke kind is uniek en het ’n talent.
  1. Leer u kind om konflik te hanteer en situasies reg uit te sorteer.

Praktiese wenke vir nuwe graad eens

Growwe motoriese vaardigheid

  1. Growwe spierontwikkeling

Die kind het gereeld en baie oefening nodig om die groot spiere van die liggaam te ontwikkel.

  • sport
  • klim en klouter
  • swem
  • speletjies met ’n bal
  1. Lateraliteit

Lateraliteit is die innerlike bewus

  • bal te vang
  • ’n skêr te gebruik
  • skoenveters vasmaak
  1. Liggaamsbeeld

By liggaamsbeeld word bedoel dat die kind bewus moet wees van sy liggaam en die moontlikhede daarvan. Hy moet weet hoe sy liggaam beweeg in die ruimte om hom. Uit hierdie liggaamsbeeld ontwikkel die kind lateraliteit.

  1. Ruimtelike oriëntasie (posisie in die ruimte)

Ruimtelike oriëntasie beteken dat die mens gedurigdeur weet waar hy hom in die ruimte bevind.

Woordeskat wat posisie aandui, is dus belangrik bv. bo, onder, tussen, voor, deur, bokant, bo-op, links, regs, agter, ens.

Fyn motoriese vaardigheid

Fyn motoriese bewegings is die fyn spierbewegings van die liggaam.

  1. Oog-hand koördinasie

Alle bewegings wat die kind uitvoer word gelei deur sy oë bv.

  • om te teken of in te kleur
  1. Oog-voet koördinasie

Alle bewegings wat die kind uitvoer word gelei deur sy oë bv.

  • Loop op ’n streep vorentoe
  • Loop op ’n streep agtertoe

Perseptuele vaardigheid

  1. Visuele diskriminasie

Dit is die vermoë om deur middel van die oë te onderskei en ooreenkomste en verskille raak te sien. Klassifikasie en begripsvorming gaan hiermee gepaard.

  1. Visuele geheue

Visuele geheue is die vermoë om te kan onthou wat die oë sien. ’n Kind moet kan onthou wat hy gesien het, sodat hy later in die skool kan onthou wat hy gelees het. Hy moet kan onthou hoe ’n woord lyk wanneer hy spelling doen en sinne skryf.

  1. Vormwaarneming (herkenning)

Herkenning van vorms en die grootte van vorms is baie belangrik vir die skoolbeginner. Dit is ’n belangrike faktor by die aanleer van lees. Die kind moet letters, syfers en woorde kan herken afgesien van hulle vorm en grootte.

  1. Ouditiewe persepsie

Interpretasie van inligting wat deur die ore na die brein gestuur word. Hoor gewoonlik, maar luister nie intensief nie bv.

  • opdragte
  • storievertelling
  • ritme
  • klank
  • woorde

Boustene vir ’n goeie selfbeeld

’n Goeie selfbeeld is die

basis van ’n gelukkige kind

se menswees.

  1. Sê en wys daagliks vir u kind jy het hom/haar lief.
  1. Waardeer sy/haar uniekheid. Behandel hom/haar met respek en menswaardigheid.
  1. Laat hom/haar volgens sy/haar ouderdom en vermoëns dinge self doen.
  1. Leer en wys hom/haar hoe om nuwe dinge aan te pak. Laat hy/sy dit eers saam met jou doen. So leer hy/sy.
  1. Moedig pogings of vordering aan. Moenie net op die eindresultaat fokus nie.
  1. Hou u verwagtinge realisties.
  1. Fokus en reageer op positiewe gedrag. Gee minder aandag aan wangedrag soos aandagtrekkery.
  1. Bestee en geniet gereeld tyd saam met hom/haar afsonderlik.
  1. Luister na en praat met hom/haar oor emosies.
  1. Vaste reëls (met keuses) laat hom/haar veilig en geliefd voel.
  1. Stel belang en ondersteun sy/haar belangstelling.
  1. Help hom/haar om nie bang te wees vir foute nie en om daaruit te leer.