ATLETIEK

Atletiek by Laerskool Randhart vind gedurende die eerste en derde kwartaal plaas.

Aan die begin van elke jaar word daar reeds op die eerste skooldag uitdunne gehou om die top twaalf naelloopatlete in elke ouderdomsgroep te bepaal. Hierdie atlete ding teen mekaar mee tydens die huissport wat plaasvind op die eerste Vrydagmiddag, nadat die skole heropen het. Tydens die huissport is alle leerders welkom om aan die velditems en langafstande deel te neem.

Na afloop van die huissport word ʼn voorlopige span saamgestel om aan die vriendskaplike byeenkomste deel te neem. Alhoewel sommige atlete verkies om van privaatafrigters gebruik te maak, is Dinsdagmiddagoefeninge by die skool verpligtend vir alle atlete. Op Dinsdagmiddae word daar weer uitdunne gehou om die span vir die volgende byeenkoms te finaliseer.

Die uitslae van al die vriendskaplike byeenkomste word in ag geneem wanneer die jaarlikse interlaerspan gekies word. Tydens die interlaerbyeenkoms, wat gewoonlik die tweede week van Februarie plaasvind, kan leerders dan deurdring na die Albertonkampioenskappe. Hierna kan atlete ook kwalifiseer om aan die Distrik-, Gauteng- en SA-kampioenskappe deel te neem.

Tydens die derde kwartaal word daar weer uitdunne gehou vir die jaarlikse massabyeenkoms. Die doel hiervan is om alle leerders wat graag wil ʼn kans te gee om aan die byeenkoms deel te neem. Uit die byeenkoms se A-wedlope word ʼn span verkies wat gedurende die volgende week aan ʼn vriendskaplike byeenkoms deelneem. Na aanleiding van hierdie vriendskaplike byeenkoms asook die eerste kwartaal se uitslae word daar dan ʼn span gekies om in Oktober aan die jaarlikse Super 12-atletiekbyeenkoms deel te neem.

RUGBY

By Laerskool Randhart is ons doelstelling om die liefde vir rugby asook die vaardighede van die spel te ontwikkel.

Rugby begin reeds vir die seuns in graad 1. Oefeninge begin altyd die Maandag na die interskole atletiekbyeenkoms. Afrigting word deur die onderwysers, wat al die nodige kwalifikasies het, hanteer. Oefentye vir die seuns vind op Maandae tot Woensdae direk na skool tot ongeveer 14:00 plaas. ʼn Rugbykliniek vind op Donderdagmiddae plaas waar daar meer aandag aan die ontwikkeling van vaardighede geskenk word.

Welpierugbywedstryde vind gedurende die tweede kwartaal op Saterdae plaas en elke seun kry gewoonlik geleentheid om twee wedstryde elke Saterdag te speel.

Graad 2-seuns speel nie meer welpierugby nie en word reeds voorberei om vyftienmanrugby te speel. ʼn A- en B-span word gekies. Wedstryde word gereël saam met die meeste ligadae en daar word ook aan spesiale toernooie, wat slegs vir 0/8-spanne is, deelgeneem.

Jaarliks, na afloop van die atletiekseisoen, vind die intergraad vir die res van die skool se spanne (0/9 – Eerstes) plaas en hier kry alle belangstellende seuns die geleentheid om proewe te speel in die posisie waarin hulle graag sal wil speel. Spanne word hierna gekies en seuns word die geleentheid gegun om hul staal te wys in die eerste paar vriendskaplike wedstryde van die seisoen.

Laerskool Randhart se rugbyspanne toer reeds van ʼn baie jong ouderdom af.

Die O/9-, O/10A en B-spanne toer jaarliks gedurende die Aprilvakansie na Jubaweni. Die O/11 tot eerstespan toer gedurende die vakansie na Witrivier waar daar baie wedstryde gespeel word.

Na afloop van die vriendskaplike wedstryde en toere sal spanne finaal aangekondig word vir die Super 12-kompetisie asook die liga.

Die Super 12-kompetisie is een van die grootste kompetisies vir laerskole in die land en vind altyd die eerste Saterdag na die Aprilvakansie plaas en die finale rondtes die week daarna.

Laerskool Randhart is betrokke by die Superliga vir laerskole in Gauteng waar baie sterk skole in ʼn liga teen mekaar deelneem. Die liga bestaan uit agt vooraanstaande skole. Na afloop van al die ligawedstryde volg kwart-, semi- en finale rondtes vir al die onderskeie ouderdomme.

NETBAL

Laerskool Randhart poog nie net om wenspanne op te lewer nie, maar om ook elke individuele speler van so aard te ontwikkel dat hulle op seniorvlak sal presteer.

O/7 en O/8-netbal:

Laerskool Randhart glo daaraan om elke leerder se natuurlike talente te ontwikkel en daarom word geen speler op hierdie vlak weggewys nie. Elke dogtertjie word deel van ʼn span en kry die geleentheid om aan wedstryde deel te neem. Omdat dogters van hierdie ouderdomsgroepe in ʼn ontwikkelingsfase is, word daar baie gekonsentreer op die ontwikkeling van hul vaardighede alvorens daar sifting plaasvind. Volgens Netbal Suid-Afrika moet daar op hierdie vlak ook posisionele ruilings plaasvind wat aan die dogters ʼn geleentheid gee om in al die moontlike netbalposisies hul vaardighede te ontwikkel.

O/9-netbal:

Vanaf O/9 word daar spanne gekies tydens die intergraad waar elke dogter die geleentheid kry om hul vaardighede ten toon te stel tydens proewe. Daar word altesaam 24 dogters gekies wat in die A-, B- en C-spanne, agt in elke span, opgeneem word. Posisionele ruilings, soos deur Netbal Suid-Afrika vereis, vind ook op O/9-vlak tydens elke wedstryd plaas. Sodoende word ook gedurende die spelers se O/9-jaar verseker dat hulle ʼn geleentheid kry om in elke moontlike posisie blootstelling te kry.

O/10 tot O/13-netbal:

Jaarliks, na die atletiekseisoen, word daar intergraad gehou waar elke dogter die geleentheid kry om hul vaardighede ten toon te stel tydens proewe. Die doel hiervan is om drie spanne in elke ouderdomsgroep te kies. Daar word 23 dogters in elke ouderdomsgroep gekies wat onderskeidelik in die A-, B- en C-spanne opgeneem word.

Elke span bestaan uit sewe spelers asook twee reserwes wat elke span verteenwoordig. Ter verduideliking: Die A-span bestaan uit sewe spelers en hul twee reserwes kom dan uit die B-span uit. Die reserwes speel amptelik vir die B-span, maar staan in vir ʼn A-spanspeler indien daar byvoorbeeld ʼn besering is. Dieselfde geld vir die B-span. Die reserwes mag glad nie gedurende ligawedstryde vir ʼn hoër span speel, tensy daar ʼn besering is nie. Die reël geld egter nie vir C-spanne nie. C-spanne mag nege spelers op die spanlys hê waarvan slegs agt spelers tydens ʼn betrokke wedstryd mag speel. Hulle mag egter halftyd ruil, indien hulle dit verkies.

Die O/13A-span toer jaarliks gedurende die Aprilvakansie George toe waar hulle teen die top skole in die land deelneem. Elsje Jordaan (Protea-netbalafrigter) bied jaarliks ʼn toernooi aan waaraan ons O/9A tot O12A-spanne deelneem – hierdie A-spanne toer dus ook gedurende die vakansie.

Voorseisoenale vriendskaplike byeenkomste word gespeel en alle A-, B- en C-spanne speel gedurende die tweede kwartaal verskeie ligawedstryde. Alle A-spanne neem ook aan die Super 12-kompetisie deel wat altyd die eerste Saterdag na die Aprilvakansie plaasvind asook die week daarna wanneer finale rondtes gespeel word. Die B- en C-spanne neem gedurende Mei aan die Super 12-kompetisie vir B- en C-spanne deel.

KRIEKET

Laerskool Randhart beskik oor twee turfkrieketblaaie en ses oefen-nette. Daar word jaarliks twee 0/9-spanne en slegs een span by 0/10, 0/11, tweedes en eerstes gekies.

Die krieketseisoen strek vanaf Junie tot Oktober. Alle seuns is welkom om in Junie aan die proewe deel te neem. Al die spanne neem aan vriendskaplike- en ligawedstryde deel. Gedurende die seisoen neem die seuns aan proewe deel om verkies te word vir die O/11 tot O/13 Suid-Oosrandstreekspanne. Seuns in hierdie spanne kry ook die geleentheid om aan die Oostelike proewe deel te neem om sodoende provinsiale kleure te verwerf.

Die O/11 en O/13-spanne neem jaarliks gedurende die Julievakansie aan die Super 12-kompetisie te Rustenburg deel.

Vir enige navrae oor krieket of as u in privaatafrigting belangstel, kan mnr. McMaster by 079 490 4133 gekontak word.

Hokkie

Gedurende die laaste twee of drie weke van die tweede kwartaal is alle O/10 tot O/13-seuns en dogters welkom om hokkievaardighede aan te leer of dit op te skerp tydens oefeninge. Aan die begin van die derde kwartaal vind die hokkieproewe plaas en ʼn dogters O/10, O/11, tweede en eerstespan word verkies. By die seuns word ʼn O/11, tweede en eerstespan gekies.

Mini-hokkie vind ook gedurende die derde kwartaal op die skoolterrein vir O/7 tot O/8-dogters plaas en alle dogters wat belangstel, kan deelneem. Oefening vir O/7-dogters is vanaf 13:10 tot 14:10 en vir die O/8-dogters vanaf 14:00 tot 15:00.

Die O/9 tot O/13-dogters sowel as die O/11 tot O/13-seuns oefen op Hoërskool Marais Viljoen se terrein. Die dogterspanne oefen vanaf 14:15 tot 15:15 en die seunspanne vanaf 15:15 tot 16:15.

Ligawedstryde word gedurende die derde kwartaal gespeel. (Julie tot September). Slegs O/10 tot O/13-spelers neem aan die liga deel. Die juniorspanne neem ook deel, maar slegs vriendskaplik.

Die seuns- sowel as die dogterseerstespan neem ook jaarliks aan die Super 12-kompetisie deel wat gewoonlik die eerste naweek van die derde kwartaal plaasvind.

Aan die einde van die hokkieseisoen vind daar Oos-Gauteng hokkieproewe plaas vir die O/12 en O/13-seuns en dogters.

Me. Van Zyl en Kloppers bied ʼn hokkiekliniek vanaf Maart tot November vir alle O/7 tot O/10-dogters aan. Skakel gerus vir me. Van Zyl by 082 313 4862 indien u hierby betrokke wil raak.

GHOLF

Gholf is ʼn erkende sportsoort by Laerskool Randhart wat deur ʼn privaatpersoon hanteer word. Mnr. Rendum Venter is tans in beheer van ons gholf.

Gholfklinieke word op ʼn Maandagmiddag net na skool op die skoolterrein aangebied vir die Graad 1 en 2-leerders. Klinieke vir graad 3 tot 7-leerders vind Donderdagmiddae na skool plaas. Spelers neem gewoonlik gedurende skoolvakansies aan toernooie deel om hul spel te verbeter.

Alle spelers mag jaarliks aan die proewe deelneem om gekies te word vir die Super 12-span. Die proewe bestaan uit drie rondtes en die twee beste rondtes se punte word in ag geneem. Die top 6-gholfspelers word weer geleentheid gegun om hul staal teen mekaar te wys en daarna word die top vier gekies om gedurende die derde of vierde kwartaal aan die Super 12-kompetisie deel te neem.

TENNIS

ʼn Gekontrakteerde, deeltydse afrigter nl. me. E. Badenhorst sien om na die totale tennisprogram by die skool.

Na die interne kampioenskappe wat aan die einde van elke jaar plaasvind, word ʼn junior- en seniorranglys opgestel.

Einde Januarie word daar proewe gehou volgens die bogenoemde ranglys. Na afloop van die proewe word die ranglys opgradeer. Na die proewe word die spelers op die ranglys tot aan die begin van Junie kanse gegun om die spelers wat bokant hulle op die ranglys lê, uit te daag. Hulle kan spelers, wat selfs twee posisies bokant hulle lê, uitdaag. ʼn Uitdaagvorm moet in die sportkantoor afgehaal en voltooi word. Daar sal ten alle tye ʼn personeellid teenwoordig wees by hierdie uitdaagwedstryd.

Na afloop van alle uitdaagwedstryde word ʼn finale ranglys aan die begin van Junie opgestel. Hierna word nege spanne naamlik 3 seniorseun-, 3 seniordogter-, 2 juniorseun en 2 juniordogterspanne gekies om aan die ligawedstryde deel te neem. Daar sal altyd ʼn spanbestuurder (onderwyser) teenwoordig wees by alle ligawedstryde.

Laerskool Randhart neem ook jaarliks deel aan die Super 12-kompetisie en ʼn seniorseun- en seniordogterspan neem hieraan deel. Hierdie twee spanne oefen dwarsdeur die jaar op ʼn weeklikse basis en speel heelwat vriendskaplike wedstryde.

Die tennisseisoen strek van einde Januarie waar die ranglys bevestig word vir die jaar tot en met begin Oktober.

Me. E. Badenhorst bied privaatsessies reg deur die jaar vir graad 1 en 2-leerders gedurende KDA-periodes aan. Daar word ʼn ander tydjie op hierdie leerders se roosters ingewerk waar hulle KDA sal doen.

GIMNASTIEK

Gimnastiek, asook tuimel, is erkende sportsoorte by Laerskool Randhart wat privaat hanteer word.

Gimnaste neem gewoonlik gedurende Mei deel aan ʼn interskole kompetisie en slegs die leerders wat aan die kompetisie deelneem, kry erkenning vir hulle deelname aan hierdie sportsoort.

LANDLOOP

Die landloopliga vind gedurende die derde kwartaal plaas. ʼn Massabyeenkoms word aan die einde van die tweede kwartaal gehou en alle leerders word genooi om hieraan deel te neem. Die doel van die byeenkoms is om leerders ʼn voorsmakie te gee van dié sportsoort.

Wie mag deelneem?

Alle leerders is welkom.
Leerders neem in ouderdomsgroepe van O/9 tot O/13 deel. Graad 1 en 2-leerders neem saam met die O/9-groep deel.

Oefening

Juniors (Graad 1 en 2):

Leerders oefen slegs gedurende die derde kwartaal van 13:10 tot 14:00 op Maandae, Dinsdae en Donderdae.

Seniors (Graad 3-7):

Leerders begin reeds gedurende die eerste kwartaal direk na die atletiekseisoen oefen en gaan voort gedurende die tweede en derde kwartaal. Oefentye is van 14:00 tot 15:00 op Maandae, Dinsdae en Woensdae.

Leerders neem deel aan die liga en R5.00 is betaalbaar per byeenkoms. Elke leerder moet ten minste aan twee ligabyeen-komste deelneem om te kwalifiseer vir deelname aan die Albertonkampioenskappe. (Die aantal verpligte byeenkomste kan wel van jaar tot jaar verskil, afhangende van die aantal byeenkomste wat vir die seisoen gereël is.)

Tydens die Albertonkampioenskappe moet ʼn atleet kwalifiseer om aan die Distrik-, Gauteng- en SA-kampioenskappe deel te neem.

Atlete neem ook jaarliks in Augustus aan die Super 12-kompetisie deel en hierdie is die enigste keer wat spanne gekies word. Slegs vier seuns en vier dogters mag per ouderdomsgroep hieraan deelneem.

RUITERS

Ruiters is ʼn erkende sportsoort by Laerskool Randhart wat privaat hanteer word.

Die Ruiterseisoen skop reeds vroeg in die jaar af en strek tot Oktober. Die ruiters neem gedurende die jaar aan verskeie kwalifiserende rondtes deel om uiteindelik verkies te word tot die Gautengspan.