Laerskool Randhart se Algemene Kennisspan bestaan uit drie graad 7-leerders (twee deelnemers en een reserwe). Leerders wat belangstel om deel te wees van die Algemene Kennisspan moet besef dat dit baie harde werk en toewyding verg. Dit is egter ook baie vervullend en selfverrykend. Ten spyte van die harde werk wat ingesit word, heers daar ten alle tye ʼn gemoedelike atmosfeer.
Die Algemene Kennisspan neem jaarliks aan die Super 12-kompetisie deel wat gewoonlik in Augustus plaasvind.
Die leerders moet breë algemene kennis opbou oor ʼn wye spektrum van onderwerpe soos byvoorbeeld die politiek, sport, wêreldgeskiedenis en nuus en selfs tot natuurwetenskappe.
Slegs leerders wat hulself bereidwillig verklaar om talle ure te spandeer om hulle algemene kennis te verbreed, word oorweeg vir hierdie span.
Bybelvasvra is ʼn vrywillige aktiwiteit vir graad 6 en 7-leerders en maak deel uit van die skool se missie om totaliteitsopvoeding te verskaf. Hierdie aktiwiteit het ten doel om leerders se liefde vir God en die Bybel te kweek.
Enige graad 6 en 7-leerder kan deelneem en belangstelling bepaal jaarliks die aantal spanne wat ingeskryf word. Hierdie spanne neem deel aan die Rapportryerkompetisie waarvan die uitdunrondtes in Mei en Augustus plaasvind en die landsfinaal in Oktober. Daar word ook gedurende Augustus deelgeneem aan die Super 12-kompetisie.
Swallow 15 en Rina Francis Music Studio is musiekskole wat privaatmusieklesse op Laerskool Randhart se terrein aanbied. Belangstellende leerders woon op ʼn weeklikse basis lesse by om ʼn sekere musiekinstrument te bemeester.
Swallow 15 bied die volgende klasse aan:
Ghitaar (akoesties en elektries), vokaal, sleutelbord, klavier asook dromme en bas in verskillende style bv. “pop, rock, blues, punk en metal” aan.
Vir verdere besonderhede of om by Swallow 15 aan te sluit, kan Joe by 083 286 2726 gekontak word.
Rina Francis Music Studio bied die volgende klasse aan:
Klavier, klavierbegeleiding, viool.
Groepmusieklesse: Blokfluit en slagwerk instrumente.
Musiekteorie
Vir verdere besonderhede of om by Rina Francis Music Studio aan te sluit, kan Rina Francis by 084 456 8159/rinamusiek@gmail.com gekontak word.
Laerskool Randhart hou elke vyf jaar ʼn revue waar die doelwit is om soveel as moontlik leerders die geleentheid te bied om ten minste een keer gedurende hul laerskoolloopbaan aan ʼn groot produksie deel te neem.
Massadeelname word dus aangemoedig en alle graad 1 tot 7-leerders kan in klas- en/graadverband deelneem.
ʼn Revue-fooi word na aanleiding van uitgawes (klere, beligting asook choreografie) gehef en ouers kan dit oor ʼn aantal maande afbetaal of eenmalig vereffen. Hierdie projek word nie aangebied om fondse te genereer of om wins te maak nie – kostes word dus so laag as moontlik gehou.
Die revue vind gewoonlik na die Oktobervakansie plaas en die aantal optredes word bepaal deur die mate van belangstelling.
Die dramaklub by Laerskool Randhart, Stage Stars Studio, word privaat bedryf as ‘n buitemuurse aktiwiteit. Belangstellende leerders vanaf graad 1 tot 7 kan aan hierdie kreatiewe dramaklasse deelneem.
Die klasse word aangebied deur die Stage Stars span onder die leiding van Carla Janse van Rensburg, ʼn gekwalifiseerde fasiliteerder met ʼn lisensiaat in Spraak en Drama.
By Stage Stars val die fokus op die ontwikkeling van selfvertroue, kreatiwiteit, kommunikasievaardighede, talent, groepsdinamika, verbeelding, taalvaardigheid en redevoering. Alle klasse vind in ʼn onkritiese omgewing plaas.
Leerders neem jaarliks deel aan Redenaars, die Alberton Eisteddfod, ATKV-geleenthede asook verskeie ander spraak en dramakompetisies.
Klasse begin amptelik in Januarie in die skoolsaal met 3 uurlikse sessies op Maandae vanaf direk na skool tot 16:00. Leerders hoef nie noodwendig op die uur in te skakel nie, maar kan aansluit wanneer hul ander aktiwiteite afgehandel is.
Vir verdere besonderhede of om by Stage Stars aan te sluit, kontak vir Carla by 082 613 8446 of info@stagestars.co.za
Randrefrein en Kiewiete
Laerskool Randhart spog met ʼn juniorkoor wat ook bekendstaan as die Kiewietkoor en Randrefrein ons seniorkoor.
Daar vind jaarliks gedurende November vir graad 2 en 3-leerders oudisies plaas vir die Kiewietkoor. Graad 1-leerders asook nuwe graad 2 en 3-leerders kry die geleentheid om binne die eerste week van die volgende skooljaar ook oudisies te doen.
Aan die einde van ʼn graad 3-Kiewietkoorlid se skooljaar, word al die graad 3-koorlede onderwerp aan ʼn oudisie om te bepaal of die koorlid meerstemmige koorwerk sal kan baasraak. Die aantal lede wat verkies word, word bepaal na aanleiding van die beskikbare plek in ons Randrefreinkoor. Nuwe graad 4 tot 7-leerders kry ook die geleentheid om binne die eerste week van die volgende skooljaar oudisies te doen.
Die Kiewiete en Randrefrein neem jaarliks aan die Alberton Eisteddfod, ATKV-Applous en die Super 12-koorkompetisie deel. Randrefrein tree ook per geleentheid op uitnodiging by verskeie geleenthede op.
Seunskoor
Randhart is bevoorreg om ook te kan spog met ʼn seunskoor wat in 2016 tot stand gekom het. Die seunskoor is juis in die lewe geroep om aan ʼn addisionele 30 of 40 seuns die geleentheid te bied om ook in ʼn skoolkoor te sing en dit as ʼn kultuuraktiwiteit te beoefen.
Oudisies vir die koor vind jaarliks gedurende die laaste twee weke van die vierde kwartaal plaas. Dit word opgevolg met ʼn tweede rondte oudisies in Januarie van die nuwe skooljaar.
Gedurende 2017 was die koor in die bevoorregte posisie om fondse in te samel, sodat pragtige koordrag vir die seuns ontwerp en gemaak kon word.
Die seunskoor neem jaarliks tydens verskeie geleenthede asook die Alberton Eisteddfod deel.
By die Kunsklub wil Laerskool Randhart graag leerders betrek wat kunstig is en graag uiting wil gee aan hulle kreatiewe sy.
Aangesien daar ʼn groot aanvraag vir die Kunsklub is, word uitdunne vroeg in die eerste kwartaal (teen einde Januarie) gehou. Tydens die uitdunne word daar van die leerders verwag om ʼn prentjie (Gr. 1 – 3) of ʼn stillewe (Gr. 4 – 7) te teken. Na die uitdunne word tien leerders per graad gekies om gedurende die eerste kwartaal elke Donderdagmiddag die Kunsklub by te woon. Leerders word in verskeie kunstegnieke onderrig. Tydens hierdie klasse word die leerders, onder die leiding van entoesiastiese onderwysers, uitgedaag om met passie hul unieke kunswerk te beplan, te skep en met trots aan te bied. Tye vir die Kunsklub op Donderdagmiddae is soos volg:
Graad 1 – 3: 14:00 – 15:00
Graad 4 – 7: 14:00 – 15:00 (Groep 1)
Graad 4 – 7: 15:00 – 16:00 (Groep 2)
Tydens die tweede kwartaal word daar gefokus op die Alberton Eistedfodd (kunswedstryd) en hier is enige leerder welkom om op Donderdagmiddae na skool sy of haar kunswerk te kom skep, aangesien hierdie kunswerke nie by die huis gedoen mag word nie.
Alle leerders word vriendelik uitgenooi om hul potlode en kwaste te gryp en ʼn draai te kom maak by die Kunsklub. Hier gaan hulle sorgvrye, skeppende en inspirerende middae beleef!
Alle leerders van graad 1 tot 7 is welkom om jaarliks aan die Alberton Eisteddfod, wat vanaf Julie tot September plaasvind, deel te neem. Slegs Afrikaanse en Engelse voorgeskrewe gedigte sal deur die skool aan belangstellende leerders verskaf word. Leerders is self verantwoordelik vir die aanleer van hierdie gedigte. Indien leerders belangstel om vir ander items in te skryf, sal die skool slegs die inskrywings hanteer – stukke en voorbereiding hiervan is die leerders se eie verantwoordelikheid.
Sodra die skool die leerders se inskrywingsvorms terug ontvang, sal die datum en tyd van deelname vir hulle deurgegee word. Ouers is self verantwoordelik om leerders by die verskillende lokale van deelname te besorg.
Afdelings waarvoor ʼn leerder kan inskryf:
Afrikaans voorgeskrewe poësie
Afrikaans eie keuse poësie – Die gedig moet by aanvang van die item by die beoordelaar ingehandig word. Geen voorgeskrewe gedigte van die vorige twee jaar mag gebruik word nie.
Junior spreekkoor graad 1 – 3 (Sien kultuur Ü spreekkore op webblad)
Senior spreekkoor graad 4 – 6 (Sien kultuur Ü spreekkore op webblad)
Senior spreekkoor graad 6 – 7 (Sien kultuur Ü spreekkore op webblad)
Afrikaans gedramatiseerde poësie (Neutrale drag is swart)
Afrikaans prosa eie keuse.
Afrikaans monoloog eie keuse.
Afrikaans samespraak – Dramatiese voorstelling (komies of dramaties) deur twee tot vier deelnemers
Afrikaans onvoorbereide lees
Afrikaans Bybelvoordrag
Musiek (Individueel)
Afrikaans stelwerk (Slegs graad 5 – 7)
Al die bogenoemde afdelings kan ook in Engels gedoen word.
Nog afdelings:
Kuns – Moet ten minste twee kunsstukke inskryf, voordat ʼn leerder genooi word om aan onvoorbereide kunsafdeling deel te neem.
Fotografie – Swart en wit- asook kleurafdeling (Slegs graad 4 – 7)
Vokaal solosang – Ouers reël self vir ʼn begeleidster.
Duet – Verskeie afdelings met ʼn verskeidenheid tipe liedjies
Instrumentaal – Verskeie musiek en musiekinstrumente
Redenaars
Public Speaking
Dans – Word deur dansskole ingeskryf
Leerders wat verkies om privaat of deur hul dramastudio in te skryf, sal ook erkenning vir deelname ontvang.
Leerders wat uitstekend vaar tydens die kunswedstryd sal na die Itemwennersaande genooi word waar hulle spesiale sertifikate sal ontvang. Tydens die spoggerige Gala-aand ontvang alle afdelingwenners trofees vir hul puik prestasies.
Basiese koderingvaardighede word op 'n prettige en kreatiewe wyse aangeleer en aangewend om probleme op te los. Robotics prikkel kinders se nuuskierigheid en verbeter hul vaardighede in wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en kodering.
Wil u graag u eie standpunt stel en mense daarvan oortuig? Dan is u op die regte plek.
Die ATKV verskaf die temas en dié inligting word vroegtydig (reeds Oktober van die vorige jaar) aan ouers deurgegee, sodat daar genoegsame tyd is om ʼn toespraak gereed te kry. Die tydsduur van individuele toespraak is as volg:
Graad 1 tot 3: 2 – 4 minute
Graad 4 en 5: 3 – 5 minute
Graad 6 en 7: 4 – 6 minute
Die interne redenaars vir graad 2 tot 7-redenaars vind reeds in die eerste kwartaal (vroeg Februarie) plaas. Die uitdunne vind in graadverband na skool plaas waar 12 leerders per graad gekies word om aan die interne redenaars deel te neem. Alle redenaars wat aan die interne redenaars deelneem, ontvang ʼn sertifikaat van deelname.
Na aanleiding van die interne redenaars word die beste agt redenaars in drie afdelings (Graad 2 en 3, Graad 4 en 5 asook Graad 6 en 7) gekies om in elke afdeling teen mekaar mee te ding tydens die prestige-redenaarsgeleentheid. Hierdie prestige geleentheid vind gedurende dieselfde week as die interne redenaars plaas. Daar word van befaamde beoordelaars gebruik gemaak asook ʼn vraesteller wat aan die graad 4 en 5-redenaars ʼn konkrete vraag en aan die graad 6 en 7-redenaars ʼn abstrakte vraag vra na afloop van hul voorbereide toespraak. Die wenner en naaswenner van elke graad asook die wenner van elke afdeling word na afloop van die geleentheid aangekondig en wenners ontvang trofees.
Die twee redenaars van elke afdeling (ses redenaars) met die hoogste punte, asook een graad 7-span, neem aan die Super 12-kompetisie deel. Hierdie kompetisie vind gedurende die tweede naweek in Maart plaas. Tydens hierdie kompetisie moet graad 4 en 5-redenaars ʼn konkrete vraag en die graad 6 en 7-redenaars ʼn abstrakte vraag na afloop van hul voorbereide toespraak beantwoord.
Na aanleiding van die uitslae tydens die prestige-redenaarsgeleentheid kwalifiseer die top ses leerders van elke afdeling om aan die ATKV-redenaarskompetisie deel te neem. Die eerste rondte vind gedurende April plaas. Die graad 6 en 7-redenaars sal ʼn voorbereide, sowel as ʼn onvoorbereide toespraak moet lewer. Hulle moet dus almal na afloop van hul voorbereide toespraak aanbly om aan die onvoorbereide afdeling deel te neem. Graad 4 en 5-redenaars moet ʼn vraag direk na afloop van hul voorbereide toespraak beantwoord. Graad 2 en 3-redenaars lewer slegs ʼn voorbereide toespraak.
Verskeie individuele redenaars van elke graad vorm deel van die skool se spanredenaars wat aan die
ATKV-spanredenaarskompetisie gedurende Julie of Augustus deelneem. Daar is spankoördineerders (personeel) vir elke span wat toesien dat hulle afgerond is vir hierdie kompetisie. Die tydsduur vir ATKV-spantoesprake is 10 – 12 minute.
Laerskool Randhart neem ook graag deel aan die Alberton Eistedfodd (kunswedstryd) waar ons die individuele redenaars asook spanredenaars aanmoedig om deel te neem. Die kunswedstryd vind gedurende die derde kwartaal (Julie en Augustus) plaas.
Die graad 1-interne redenaarsgeleentheid vind gedurende die derde kwartaal plaas. Elke redenaar ontvang ʼn sertifikaat van deelname. Die wenner en naaswenner ontvang trofees. ʼn Redenaarskursus word aan die begin en einde van elke jaar onder die bekwame leiding van me. Kichenbrand aangebied.
Skaak is ʼn spel waarin opponente mekaar respekteer, omdat albei bereid is om die spel te speel in al sy fasette en binne die vasgestelde reëls.
By Laerskool Randhart word daar aan elke leerder vanaf graad 1 – 7 die geleentheid gebied om skaak speel. Alle leerders is welkom om aan die interne skaakkampioenskappe, wat in die eerste kwartaal plaasvind, deel te neem. Hierdie kampioenskap vind plaas in graadverband wat beteken dat leerders slegs teen iemand in hul graad speel om uiteindelik ʼn wenner en naaswenner in elke graad te bepaal.
Na die kampioenskappe is alle leerders welkom om die skaakklasse op Donderdagmiddae van 14:00 – 15:00 te kom bywoon. Tydens hierdie klasse leer ʼn ervare skaakpersoon aan leerders verskeie skaaktegnieke om sodoende hul spel te verbeter.
Uit die leerders wat wel aan die interne skaakkampioenskappe deelgeneem het en ook Donderdagmiddae se lesse bywoon het, word daar ʼn Super 12-skaakspan gekies om Laerskool Randhart gedurende Mei te verteenwoordig by die jaarlikse Super 12-kompetisie te Groenkloofkampus in Pretoria. Die spanne word soos volg saamgestel: Elf spelers in ʼn juniorspan (Graad 2 tot 4-leerders) en elf spelers in ʼn seniorspan (graad 5 tot 7-leerders.
Skaakspelers neem ook jaarliks deel aan ʼn skaakliga (nou bekend as die jaarlikse skaaktoernooi) en alle leerders is welkom om hieraan deel te neem.
Daar is gedurende die jaar talle ander geleenthede waar skaakspelers aan addisionele kompetisies kan gaan deelneem.
Leerders word ook aangemoedig om by Ekurhuleni Chess (die Ekurhuleni-klub) aan te sluit en sodoende ʼn kans te staan om hul Ekurhuleni-kleure in skaak te verwerf.
Alle leerders is welkom om deel te wees van Laerskool Randhart se drie spreekkore nl. graad 1 – 3, 4 – 5 en 6 – 7 wat jaarliks deelneem aan die Alberton Eisteddfod. Die spreekkore begin gewoonlik reeds in Mei oefen, sodat hulle gereed sal wees om gedurende September aan die kunswedstryd deel te neem.
Leerders wat belangstel om deel van ʼn spreekkoor te wees, kan nie ook lede van die skool se kore wees nie. Oefeninge vir beide hierdie kultuuraktiwiteite vind op Donderdagmiddae na skool plaas.
“Public speaking” is ‘n uitstekende geleentheid om u kind se selfvertroue te ontwikkel. Net soos met redenaars is “public speaking” ‘n beredeneerde praatjie waar ʼn standpunt ingeneem word en argumente met goeie verwysings aangevoer word om die gehoor te oortuig.
Laerskool Randhart se “public speaking” vind elke jaar gedurende Augustus plaas. Temas word vroegtydig bekendgemaak, sodat redenaars genoegsame tyd het om voor te berei. Uitdunne vind gedurende die eerste week van die derde kwartaal plaas.
Laerskool Randhart bied na afloop van die Alberton Eisteddfod in September twee spoggerige kultuuraande aan wat deur die kultuurvoog gereël word. Aangesien daar baie talentvolle leerders op kultuurgebied is, word ʼn aand vir graad 1 tot 3-leerders asook ʼn aand vir graad 4 tot 7-leerders gehou.
Leerders wat tydens die kunswedstryd as item- en afdelingwenners aangewys is, neem vanselfsprekend aan die kultuuraande deel. Indien die program dit toelaat, word een of twee ander uitsonderlike items ook oorweeg om verskeidenheid in die program te verseker.
Daar word van leerders, wat gekies word om aan die kultuuraande deel te neem, verwag om streng by die oefentye te hou aangesien die program binne ʼn baie kort tydjie aanmekaar gesit en ingeoefen word.
Die kultuuraande by Laerskool Randhart is een van die kultuurhoogtepunte van elke jaar.
Ons as Voortrekkers is ʼn Moderne Afrikaanse Kultuurbeweging wat in besonder ons Afrikaanse jeug wil bemagtig deur ons jeug te help ontwikkel om positiewe Burgers en volhoubare Christene te wees om so doende Diensbaar te wees om ons as Afrikaners se toekoms Vorentoe te kan bou.
Ons bied jou kind die geleentheid om:
Avontuur in die natuur te beleef,
Te leer van ons moderne Afrikanerskap,
Praktiese Christenskap te ervaar, en
Basiese vaardighede te ontwikkel met tot 92 verskillende kentekens.
Pret te hê saam met hul gesin en spanmaats in ʼn veilige omgewing.
As ouer is dit belangrik om te weet dat Voortrekkers
Jou kind toerus met ʼn ABCD – Afrikanerskap, Burgerskap, konsekwente Christenskap en Diensbare Leierskap. Kritiese vaardighede vir die besigheidswêreld van môre.
Jou as ouer ook betrokke maak om saam met jul kinders avontuur te kan beleef in ʼn gebalanseerde en waardegedrewe ruimte.
Jou kind se selfvertroue ontwikkel deur hulle veilig bloot te stel aan onvergeetlike ervarings.
Span Byeenkomste
Spanne kom gemiddeld vir 1 uur bymekaar by die skool. Byeenkomste is gewoonlik op Vrydae van 17:00 tot 18:00
Kommando Byeenkomste
Verskeie voortrekker kommando byeenkomste word deur die jaar gereël.
Hoe om deel te word
Kontak gerus
Louwrens Pretorius ( Veldkornet)
082 574 5205