Laerskool Randhart wil graag addisionele geleenthede bied om leerders se vaardighede op verskeie terreine te ontwikkel. Vandaar dan ons eie Kliekklub. Die Kliekklub speel ook ’n belangrike rol in die bemarkingstrategie van die skool en daarom is dit vir ons belangrik dat ons leerders deel hiervan is.
Lede van die Kliekklub word getaak om foto’s by al ons skoolgeleenthede te neem. Hierdie foto’s vorm deel van plasings op ons Facebook-blad en Instagram, vir koerantberigte asook vir ons eie skoolkoerant Rantiesnuus#oppiwerf.
Enige leerder kan aan die Kliekklub behoort. Leerders hoef nie noodwendig ’n professionele kamera te hê nie; selfs ’n selfoon kan gebruik word. Leerders geniet dit om deel te wees van die Kliekklub en om ’n aandeel te hê in die verewiging van spesiale gebeurtenisse en geleenthede op die skool se besige kalender.
Die Ranties het in 2022 hierdie inisiatief gestig wat op entoesiastiese graad 6 en 7-skrywers gemik is wat deur middel van skryfkuns graag meer uiting aan hulle gevoelens en verbeelding wil gee.
Die klasse vind elke tweede Woensdag van 14:00 – 15:00 plaas. Daar word veral op kortverhale en gedigte gefokus.
Die voornemende skrywers neem ook graag aan eksterne kompetisies deel waar hulle puik presteer.
Daar sal gepoog word om elke twee jaar ’n boek uit te gee waarin die indrukwekkendste skryfwerke geplaas word.
Met groot opgewondenheid het die Ranties in 2022 die Pom-Poms, ’n nuwe buitemuurse aktiwiteit, in die lewe geroep. Hierdie aktiwiteit is egter slegs vir graad 6 en 7-dogters.
Oudisies word aanvanklik gehou waarna daar ’n finale groep van 18 dogters gekies word.
Eenvormige spogkostuums en pom-poms word vir elke dogter gemaak en moet deur ouers aangekoop word.
Die dogters oefen meestal op Vrydae tussen 14:00 en 15:00 aan hulle danspassies.
Die pom-pom-dogters tree gretig by sportgeleenthede op en maak omtrent ’n aangename bohaai.
Mnr. en Mej. Rantie is ‘n skoonheidskompetisie waaraan enige graad R tot 7-Rantieleerder kan deelneem.
Daar word eerstens uitdunne gehou waarna die Rakkers, junior- en seniorfinaliste op twee aparte gala-aande op die verhoog kom pronk voor bekwame beoordelaars. Die titels, Mnr. en Mej. Rantie, Eerste en Tweede Prins/es, Mnr. en Mej. Persoonlikheid, Mnr. en Mej. Fotogenies asook Mnr. en Mej. Debutant word aangewys.
Hierdie spoggeleentheid is nie net op skoonheid gemik nie. Dit lê die Ranties na aan die hart, want die doelwit van hierdie projek is om al die wins aan ’n liefdadigheidsorganisasie te skenk.